Sien Zivaglo by US Woordfees PDF Print E-mail
Hotblog Stand - Exhibitions
Sunday, 03 March 2013 06:30

 

STELLENBOSCH - Die kunstenaar Hermien van der Merwe se werk kan by die installasie-uitstalling genaamd “Zivaglo” by vanjaar se US Woordfees op Stellenbosch “ervaar word”. Zivaglo is ’n ongewone ligprojeksie en kreatiewe platform met ’n storie wat as ’n multisensoriese en interaktiewe beligtings- en kunsuitstalling aangebied word. Verskillende kunstenaars se werk vorm deel van dié “lig”-verhaal.

   Die goue draad wat deur Van der Merwe se werk loop, is Fynbos. Sy verbeeld die koningsprotea op ’n verskeidenheid maniere en in verskillende media sodat elke kunswerk die kyker vra om vars daarna te kyk. Só is daar byvoorbeeld die reuseprotea in gemengde media op ongespande skilderdoek getiteld Mooi verrys uit die as. Sy het onder meer houtskool en vlambare gom, wat sy op die doek laat brand het, gebruik om die tema te versterk van saad wat eers geskroei moet word voor dit tot volheid kan kom.

   Daar is ook ’n reuse kandelaar wat deur die protea geïnspireer is. Die kandelaar bestaan uit ’n draad raamwerk en “blare” wat met fyn papier oorgetrek is. Die ligbron in die kandelaar laat “lig van binne af uitstraal na waar daar nog nie lig is nie”. Die Koning se Kroon is ’n groter as lewensgrootte kroon van deursigtige materiaal waarop daar “agterstevoor” aan die binnekant van die kroon geskilder is. Die kyker kyk dus as’t ware deur die “glas” na die kunswerk om die geheelbeeld te kry.

   Nóg ’n installasie – die Juweelboksballerina – is gesamentlik deur Van der Merwe en haar suster, die mosaïekkunstenaar Heidi Ansley (foto bo), gemaak.

   Van der Merwe het ’n ballet-agtergrond van 15 jaar. Die ballerina van 1,8 meter is geïnspireer deur die draaiende ballerinapoppies in vroeër jare se juwelekissies. Die mosaïek op die beeld se voetstuk is gemaak van verwerkte CD’s om die juwelekissie se musiek te suggereer. Die CD’s is in ’n hoëtemperatuuroond verwerk, wat weer by die suiweringstema van die fynboswerk aansluit.  

   Vyf tweedimensionele werke, waarin die fynbostema herhaal word, word ook saam met die installasies uitgestal. ’n Verskeidenheid gemengde media – onder meer drukkersink, pastel, grafiet, olieverf, houtskool en ink – is hiervoor gebruik. Die titels van hierdie werke sluit in Koningskind en Ek sorg mos vir jou.

   Die Zivaglo-installasievertoning kan elke dag van 10:00 tot 20:00 tydens die Woordfees ervaar word in die Hofmeyrsaal, Kerkstraat, Stellenbosch. Kaartjies kos R80 per persoon. Elke “vertoning” duur ’n halfuur. Kry meer inligting by www.zivaglo.com, info@zivaglo.com This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of (021) 597-1435.

   (Inligting deur US Woordfees verskaf) 


Recommend this item to friends via e-mail or share it on Facebook, Twitter and other social networks.

Bookmark and Share

 

 

 

Add comment

:D:lol::-);-)8):-|:-*:oops::sad::cry::o:-?:-x:eek::zzz:P:roll::sigh:
1000 symbols left


Security code
Refresh

Site by Inida Design. Content ©The Letter Box 2011